KRUINER HULPMIDDELS
Omgee vir elke Kruiner — van die begin af
By Laerskool Helderkruin is ons trots daarop dat ons elke Kruiner-maatjie ondersteun op hul leerreis. Kies jou kind se grade om te sien watter programme beskikbaar is.
Grondslagfase ondersteuningsprogramme
In die Grondslagfase bied ons verskeie hulp- en ondersteuningsprogramme aan om te verseker dat elke leerder die nodige hulpmiddels het om te floreer.
Remediërende Onderrig
Hierdie klasse vind in die middae plaas en word deur elke graad se eie onderwysers aangebied. Dit verseker dat die ondersteuning spesifiek en doelgerig is volgens die leerder se unieke behoeftes.
Hulpverleningsklasse
Tydens skoolure bied Juffrou René Terblanche individuele en kleingroepondersteuning aan. Leerders sien uit daarna om die gesellige "Mickey Mouse"-klas te besoek!
Taalverrykingsklasse
Hierdie juffrouens bied ná skool ekstra ondersteuning aan ons Engelssprekende maatjies. Hierdie klasse help hulle om selfvertroue te bou en makliker aan te pas in ons trots Afrikaanse skoolomgewing.
Akademiese Intervensieklasse
Ten einde Laerskool Helderkruin se hoë akademiese standaard te handhaaf, bied ons intervensieklasse aan vir Afrikaans en Wiskunde. Hierdie klasse vind elke Maandag van 13:45 tot 14:30 plaas.
Afrikaans & Wiskunde Intervensie
Die doel: leerders ondersteun met konsepte wat nog nie volkome bemeester is nie; geleentheid bied om vrae te vra oor werk wat moeilik of onduidelik is; en agterstallige of uitstaande werk in te haal. Die klasse word aangebied deur die betrokke vakonderwyser sodat individuele ondersteuning moontlik is.
Siftingstoetse
Vroeë identifikasie van behoeftes
Ons werk saam met 'n span professionele praktisyne wat siftingstoetse op die skoolperseel aanbied. Hierdie toetse help om enige uitdagings vroegtydig te identifiseer.
Marlé Esterhuizen
Sigsiftings vir die vroeë identifikasie van enige visuele probleme.
Cordelia Fairlie
Gehoor-, spraak- en taalontwikkeling word gesif om enige uitdagings vroegtydig op te spoor.
Monique Pieterse
Bepaal of 'n leerder gereed is vir die akademiese eise van Graad 1.
Nadine Botha
Sifting van spraakklanke, taal-vaardighede en kommunikasievermoëns.
Monique Pieterse & Chantelle Botha
Holistiese assessering van die kind se gereedheid om die skoolomgewing te betree.
Terapeute
Hande wat help, harte wat verstaan
Klik op enige terapeut hieronder om meer te leer oor hul agtergrond, dienste en hoe om hulle te kontak.
Cordelia het in 2004 haar B. Kommunikasiepatologie (spraak-taalterapie en oudiologie)-graad cum laude aan die Universiteit van Pretoria voltooi en is bekroon met akademiese erekleure. In 2008 het sy haar Meestersgraad in Vroeë Kommunikasie Intervensie behaal. Sedert 2005 is sy in privaat praktyk en in 2015 het sy die Familie Terapie en Gehoorsentrum gestig — 'n multidissiplinêre sentrum waar hulle holisties en met passie kinders en volwassenes ondersteun.
“Choose encouragement over criticism, grace over judgement and faith over fear.
Spraak- en Taalterapie
- Spraaksiftings (skole)
- Pediatriese en volwasse spraakterapie
- Neonatale terapie (hoësorgeenheid)
- Vroeë kommunikasie intervensie
- Artikulasie- en fonologiese terapie
- Taal- en taalleerterapie
- Stemterapie (kinders en volwassenes)
- Ouditiewe prosesseringsintervensie
- Gehoorsiftings & diagnostiese gehoorevaluasies
- Gehoorapparaatpassing en -diens
Chantelle bied geïntegreerde opvoedkundige terapie aan om die onderliggende oorsake van leerprobleme aan te spreek eerder as om net die simptome te behandel. Sy gebruik NILD Opvoedkundige Terapie® — 40 minute intensiewe sessies per week, individueel of in klein groepe — om studente te help om gereedskap vir onafhanklike leer te ontwikkel.
Wat bied Grounded Love Therapy?
- Geïntegreerde Opvoedkundige Terapie
- Bewegingsterapie
- Leesterapie
- Spelterapie
- Akademiese toetsing en assessering
- Skoolgereedheidsassessering
- Disleksie-ondersteuning
Nadine spesialiseer in die evaluering, diagnose en behandeling van spraak-, taal- en kommunikasie-uitvalle by kinders en volwassenes. 'n Tipiese sessie sluit 'n deeglike assessering in van die individu se huidige spraak- en taalvermoëns, gevolg deur geteikende aktiwiteite. Speletjies, visuele hulpmiddels en interaktiewe metodes word gebruik om leer maklik en aangenaam te maak. Positiewe versterking word deurentyd gegee, en weeklikse huiswerk word ná elke sessie verskaf.
Wanneer om jou kind te verwys
- Onduidelike spraak of swak mondspierbeheer
- Probleme met die korrekte uitspraak van spraakklanke
- Onvlotte spraak (soos hakkel)
- Moeilikheid met begrip van stories en instruksies
- Deurmekaar sinskonstruksies of beperkte woordeskat
- Moeilikheid om 'n storie in die regte volgorde te vertel
- Probleme met lees- en spelvaardighede
Minke is in privaat praktyk sedert 2009. Sy het haar BA(Maatskaplike Werk)-graad in 1996 aan die Potchefstroomse Universiteit voltooi, en haar Meestersgraad in Kliniese Maatskaplike Werk (Cum Laude) in 2010 aan UJ. Sy fokus op sosio-emosionele assessering en terapie, met 'n besondere belangstelling in kinders en gesinne. Haar speelkamer is 'n veilige, koesterende ruimte waar kinders hul emosies kan verwerk en nuwe, gesonde vaardighede aanleer.
Terapeutiese Benadering
- Kindgesentreerde spelterapie
- Bindings- en Traumaterapie
- Kognitiewe gedragsterapie (CBT)
- Somatiese ervaringsterapie
- Bi-laterale terapie
- Oplossingsgefokusde & Narratiewe terapie
- Kunsgesentreerde terapie
- Intensiewe ouerleiding & ouerskapsvaardighede
Corlezé help kinders om funksionele en skolastiese probleme te oorkom en selfvertroue te bou, sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik in die aktiwiteite van die alledaagse lewe.
“Ons poog om ons kinders 'n regverdige kans te gee in die lewe, om hulle volle potensiaal te bereik, en om sonder vrees vir verwerping maar met selfvertroue hul daaglikse take aan te pak.
Funksionele areas in terapie
- Fynmotoriese vaardighede
- Perseptuele vaardighede
- Algehele funksionering in die klas
- Sensoriese sisteme
- Persoonlike onafhanklikheidstake
- Ontwikkeling en stimulasie van babas
Sien jy een van hierdie tekens by jou kind?
Elke kind is uniek. As jy van hierdie simptome by jou kind sien, kan dit 'n teken wees dat 'n bietjie professionele ondersteuning kan help.
- Hartseer of depressie wat aanhou
- Angs of skeidingsangs
- Skielike gemoedsveranderinge of geïrriteerdheid
- Lae selfbeeld of sosiale onttrekking
- Vrees, fobies, of negatiewe denke
- Gedragsuitbarstings, aggressie of frustrasie
- Konsentrasie-, slaap- of eetprobleme
- Sosiale vaardigheidsuitdagings
- Hoof- of maagpyn sonder mediese rede
- Uitspeel van trauma of gevoelloosheid
- Lewensveranderinge soos egskeiding, verlies of boeliegedrag
- Bang vir beweging of val maklik oor eie voete
- Hipersensitief vir aanraking
- Ooraktief of baie passief
- Dagdroom / swak aandag en konsentrasie
- Swak postuur aan tafel
- Probleme met handdominansie
- Vermy kruising van die middellyn
- Swak links/regs diskriminasie
- Sukkel met opeenvolging van take of om instruksies te volg
- Swak beplanning van nuwe take of koördinasieprobleme
- Vermy pen- en papierwerk; swak potloodhantering
- Foutiewe letter- en nommerformasie
- Sukkel met legkaarte, vorms of kleure benoem
- Swak lees-, skryf- en wiskundevaardighede
- Atipiese spelpatrone
- Lae selfbeeld wat skoolwerk beïnvloed
Onthou: Vroeë identifikasie maak 'n groot verskil. As jy ondersteuning nodig het, ons span is hier om te help.