REKENAARSENTRUM
Inligting oor die werksaamhede in die sentrum
Leerders ontvang rekenaar opleiding in skool tyd en in die middae (“IT Smart” klub). Ons gebruik uitstekende rekenaarprogramme.
Hier leer ons met trots aan leerlinge basiese rekenaar-woordeskat, rekenaar geletterdheid, hoe om die rekenaar korrek te gebruik asook hoe om ons skool se opvoedkundige sagteware te kan gebruik. Die skool het ook Internet geriewe en leerlinge word gedurende die jaar daaraan blootgestel.
NASKOOLSE REKENAAR KLASSE – IT SMART KLUB:
Ons Helderkruin Rekenaar Sentrum bied, na skool, teen ‘n minimale koste , ekstra in-oefening en verryking op die rekenaars aan. Dit staan bekend as ons “IT Smart” klub.
Hier kan leerlinge wat met ‘n bepaalde konsep sukkel en leerlinge wat graag verrykende werk wil doen, kom oefen. Ons leer ook programmerings-vaardighede aan en “coding” is baie gewild by die leerders. Hier bewys ons ook aan leerlinge dat skoolwerk pret kan wees en dat jy leer sonder dat jy dit besef. In die meeste gevalle gebruik ons ook ander programme as die wat gedurende skool ure gebruik word, om verveling uit te skakel. Lees is ‘n belangrike aspek in ons skool en daarom konsentreer die “IT Smart” klub ook baie op die ontwikkeling van leesvaardighede en spoedlees.
In vandag se lewe waar tegnologie spoedig verbeter is rekenaars ‘n absolute vereiste, en daarom kan ons met trots sê dat Laerskool Helderkruin se rekenaarsentrum nie terug hoef te staan nie.
IT Smart klub – Juniors
Dit is een groot opgewondenheid wanneer die kleingoed, skaars 5 en 6 jaar oud, kom werk by die IT Smart klub in die middae. Ons leerders is van kleins af te kostelik op die rekenaar en leer fluks. Elke middag is die rekenaarklub aan die gang en word daar nuwe dinge aan die leerders oorgedra. Die doelwit is om die leerders op ‘n genotvolle manier rekenaargeletterd te maak. Die ouer leerders doen meer gevorderde aktiwiteite en dan is ons leessentrum ook goed aan die werk en probeer ons elke leerder ontwikkel dat hy of sy na die beste van hul vermoë kan lees.
IT Smart Klub – “Coding”
Die IT Smart Klub is daarop toegespits om leerders verder te ontwikkel en daarom bied ons ( “coding”) programmering aan in die middae. Die leerders leer speel-speel meer van die agtergrond van programmering.